|
Departement Ou Testament Universiteit van Pretoria Kort omskrywing van Pro Pent Pro Pent (‘Projek vir Pentateugstudies’/ ‘Project for Pentateuchal Studies’) is 'n aktiwiteit van die Departement Ou Testament van die Universiteit van Pretoria en dit wil graag die studie van die Pentateug bevorder. Suid-Afrika het ongelukkig nie 'n baie sterk Pentateugtradisie nie. Verskillende redes kan hiervoor aangevoer word. Pro Pent wil egter graag hierdie gaping help vul deur middel van seminare (werkswinkels) asook die elektroniese bemiddeling van inligting en kennis. Aard Gedurende Augustus 2000 was prof Eckart Otto (München) 'n gasdosent aan die Universiteit van Pretoria en Pro Pent is die gevolg van daardie besoek. Hy het talle lesings oor Deuteronomium en die Pentateug aangebied en alles was 'n groot sukses. Gevolglik is besluit om hierdie seminare in 2001 voort te sit. Verder is besluit om 'n vaster struktuur te skep en op die manier het Pro Pent ontstaan. Dit is 'n poging om die Pentateugondersoek te stimuleer en alle Afrikane (hetsy afro of euro) te betrek. Hierdie Projek vir die studie van die Pentateug word aan die Universiteit van Pretoria gehuisves, maar is 'n onderneming wat gesamentlik deur lede van die universiteite van München (Duitsland) en Pretoria (Suid-Afrika) aangepak word. 'n Formele werksooreenkoms tussen die fakulteite van Pretoria en München bestaan en Pro Pent moet ook binne hierdie konteks verstaan word. Uiteraard wil ons ook die bande met die Ou Testamentiese werkgemeenskap van Suid-Afrika versterk en uitbou. Een belangrike kenmerk van Pro Pent is die virtuele aard daarvan. Wetenskaplike nadenke oor die Pentateug en die verspreiding van Pentateugkennis gaan elektronies deur middel van e-pos en die internet geskied. Dit stel nie net besondere uitdagings aan Pro Pent nie, maar dit maak hierdie projek iets besonder. Doel Primo, die versterking en uitbreiding van die bestaande westerse eksegetiese tradisie (soos veral in die Ou-Testamentiese wetenskap weerspieël) in Suid-Afrika, en secundo, om die hoofgedagtes van die Pentateugondersoek na die Afrikagemeenskap (in die wydste sin van die woord) te dissemineer. Jare lank bestaan daar reeds 'n sterk westerse Bybelwetenskap in Suid-Afrika. Dit is oor 'n lang tyd gevorm, is uit verskillende bronne gevoed en het mettergaan die dominante benadering tot die Ou Testament en die Pentateug geword. Hierdie wetenskapstradisie is belangrik vir die hedendaagse Suid-Afrika. Dus, in plaas daarvan om hierdie wetenskapstradisie te vernietig, moet dit eerder ten behoewe van die hele Suid-Afrikaanse akademiese gemeenskap gekoester en gekultiveer word; moet die eiesoortige gestalte van die westerse Bybelwetenskap in Suid-Afrika eerder uitgebou word. En dit is presies wat Pro Pent wil doen. Uiteraard tot voordeel van almal.
Eckart Otto en die Universiteit van München (Duitsland)
Eckart Otto was professor by 'n aantal Duitse universiteite: Hamburg (1979-1986), Osnabrück (1986-1991), die Johannes Gutenberg Universiteit te Mainz (1991-1996) en sedert 1996 die Ludwig Maximilian Universiteit, München. As gasprofessor het hy lesings gegee aan die ‘Recontre Assyriologique Internationale’ in Paris, Heidelberg en Berlyn (1991,1992,1994); die Universidad Complutense de Madrid (1993); die Department of Near Eastern Studies, John Hopkins Universiteit in Baltimore (1993); die Department of Near Eastern Cultures and Languages, Indiana University, Bloomington (1993); die Oriental Institute en die Divinity School of Chicago (1995); die Ecole Pratique des Hautes Etudes in Paris (1997); die universiteite van Kaapstad, Stellenbosch en Pretoria (1997); die universiteite van Leipzig en Innsbruck (1998); die Polis Centre of the Carlsberg Foudation en die Universiteit van Kopenhagen (1999). Hy is ook lid van die Biblical Law Group of the Society of Biblical Literature (sedert 1993); 'n Elect Member of the New York Academy of Sciences (sedert 1994); 'n medestigter van die Society for the Study of Ancient Near Eastern Law (sedert 1995); hy is 'n korresponderende lid van die Joachim Jungius Gesellschaft der Wissenschaften, Hamberg (1996). Vanweë sy argeologiese interesse was hy 'n jaarlank (1978-1979) direkteur van die Deutschen Ev. Institut für Altertumswissenschaft des Heiligen Landes in Jerusalem. Tussen 1979 en 1985 het hy gereeld gaslesings by die Abbey Dormition in Jerusalem aangebied. Vanweë sy belangstelling in die resepsie van die Bybel in die derde-wêreld-konteks was hy 'n jaar gasprofessor aan die Martin Luther Seminarium in Papoea-Nieu-Guinee. Prof Otto is 'n Ou Testamentikus wat internasionale erkenning geniet. Oraloor word hy as 'n besondere deskundige op die boek Deuteronomium en die Pentateug beskou. Hy is ook 'n uiters vrugbare skrywer en het al meer as twee honderd en vyftig artikels en boeke oor die Pentateug, die Ou Testament en aanverwante onderwerpe die lig laat sien. Hy is as ‘Fachberater’ (of vakkundige) by die RGG (‘Die Religion in Geschichte und Gegenwart’) wat in sy vierde druk is, betrokke. Hy is ook redakteur van die ‘Zeitschrift für Altorientalische und Biblische Rechtsgeschichte’ (ZAR), mederedakteur van die reeks ‘Orientalia Biblica et Christiana’ (OBC) en ‘Studia et Documenta ad Iura Orientis antiqui pertinentia’ (SDIO). Verder is Otto verantwoordelik vir 'n kommentaar op die boek Levitikus in die bekende ‘Herders Theologische Kommentar zum Alten Testament’ reeks asook op die boek Deuteronomium in die reeks ‘Alttestamentliche Kommentare’ (ATK). Interessant is dat Otto deel is van 'n groep geleerdes wat die heruitgawe van Max Weber se werke (‘Max-Weber-Gesamtausgabe’) versorg. Otto is verantwoordelik vir die gedeelte oor die godsdienssosiologie. Hy is 'n besondere kenner van Max Weber en het al belangrike werk oor hom gelewer.
Pro Pent 2001 Die eerste Pro Pent Seminaar het tydens die naweek van 31 Augustus tot 3 September 2001 by die Universiteit van Pretoria se konferensielokaal te Hammanskraal plaasgevind. Dit is 'n voormalige Katolieke kollege waar priesters jare lank opgelei is en wat die Universiteit 'n paar jaar gelede gekoop en in 'n konferensiesentrum omskep het. By hierdie geleentheid is 'n aantal referate gelewer en indringend oor Pentateugnavorsing gesels. Daar was ook 'n aantal buitelandse geleerdes teenwoordig: dr Ellen van Wolde (Tilburg), dr Jan Wagenaar (Utrecht) asook prof Eckart Otto (München). Uit Afrika was daar twee besoekers: Nupanga Weanzana uit Bangui (Sentraal Afrika) en Hillary Nyika uit Zimbabwe. Pro Pent 2002 Pro Pent-2002 het vanaf 30 Augustus tot 2 September 2002 by Hammanskraal plaasgevind. Die tema was, ‘Ethics of Deuteronomy in the context of the Pentateuch’, en daar was weereens 'n aantal buitelandse besoekers: Proff Eckart Otto, John Van Seters, Aaron Schart en Michael Weigl. Die groep van 2002
Tweede ry: Pieter Dorey, Ananda Geyser, Dirk Human, Deon Serfontein, Eckart Otto. Derde ry: Jan Vorster, Sakkie Spangenberg, Johan Wildenboer. Agter: Michael Weigl, Jurie Le Roux, Deon Snyman, Fanie Snyman, Johan Wildenboer, Hendrik Bosman, Piet Venter, Nuapanga Weanzana, Fanie Cronje, John van Seters, Aaron Schart, Deon Snyman en Tinus Grobler
Pro Pent 2003 Hieronder volg inligting in verband met vanjaar se Pro Pent-seminaar. Indien jy nog belangstel om dit by te woon, kan meer inligting van Gerda de Villiers by gerdadev@mweb.co.za verkry word.
Die belangrikheid van teorieë Die belangrikheid van Pentateugteorieë is oor en oor beklemtoon. Sonder 'n teorie vaar niemand wel nie. Teorieë is immers al wat ons het. 'n Teks se woorde, begrippe asook teologie maak in, deur en met behulp van 'n teorie sin. Ons kan nooit daarsonder werk nie. Die blote lees van 'n teks mag dus belangrik wees en 'n immanente lees van die Pentateug kan interessante perspektiewe oplewer, maar Pro Pent wil graag die Pentateug binne die histories-kritiese raamwerk van die afgelope twee honderd jaar lees en verstaan. Omdat die Pentateugteks nie vanself spreek nie, is dit sinvol om dit vanuit 'n bepaalde teoretiese perspektief te lees. Nog anders gestel: om die Pentateugnavorsing van die afgelope twee eeue in ons bestudering van die Pentateug ernstig te neem. In hierdie navorsinggeskiedenis van die Pentateug is daar soveel kosbare insigte oor die teks, perspektiewe op Israel se godsdiensgeskiedenis en wyshede oor die bestudering die Ou Testament saamgevat dat ons dit in die geledere van Pro Pent altyd weer opnuut wil toe-eien en aanwend.
Daar is ook 'n anderkant van hierdie Pro-Pent-munt: die etiese relevansie van hierdie teorieë moet in ag geneem word. Dit het geen sin om Pentateugteorieë opsigself te bestudeer of bloot net die verskillende tradisielae in die teks te onderskei nie. Iets meer is nodig: die etiese konsekwensies (ook vir Suid-Afrika) van 'n bepaalde teorie. Oor die woord ‘etiek’ sal ons die loop van die tyd groter klarigheid moet kry. Aangesien die woord ‘etiek’ voetangels het, het sommige ‘teologie’ voorgestel. Hoe dit ook al sy, elke Pentateugteorie se etiese (of teologiese) implikasies (ook vir vandag) moet daarom deurdink word. Pro Pent wil daarom nie net in blote teoretisereing opgaan nie, maar die etiese gevolge van 'n teorie ook in ag neem. In die lig hiervan is besluit om voorlopig die teorie van Eckart Otto as werksteorie te gebruik. Die waarde van Otto se teorie is juis dat dit Pentateugteorie en etiek, die historiese konteks en destydse etiese vrae probeer integreer. Elke redaksiefase in die ontstaan van die Pentateug kan 'n mens aan 'n bepaalde etiese vraag of probleem koppel. 'n Voorbeeld is Israel se konfrontasie met neo-Assisriese invloed gedurende die sewende eeu voor Christus. Volgens Assiriese gewoonte het hulle hulle ryksgod, Assur, op die oorwonne volke afgedwing. Alle eer moes aan Assur gebring word en hierdie god moes aanbid word. Teenoor die Assiriese politiek is 'n teenkonsep ontwikkel. Hierdie versetspoging is op 'n briljante manier uitgevoer: Assiriese idees en terminologie is oorgeneem en so herskryf dat Jahwe alle eer moes ontvang. In hierdie verset het Israel sy eie identiteit ontdek en is die andersheid van sy God besef. En in hierdie daad van verset moet die begin van Deuteronomium en die Pentateug gesoek word. Uit hierdie gebeurtenis vloei gevolglik allerlei ‘etiese vrae’ oor die verhouding tussen godsdiens en gemeenskap, die aard van verset, die aard van Israel se geloof in Jahwe, die kerk se houding teenoor staatsmag en nog ander sake voort.
Nog 'n voorbeeld kom uit 'n vergelyking tussen die Heksateugredaksie (HexRed) en die Pentateugredaksie (PentRed). In albei redaksies word die groot eties-teologiese probleme van die na-ballingskapse gemeenskap gereflekteer. In die Heksateugredaksie (HexRed) wat ons in die boeke Genesis tot en met Josua aantref, staan land en grond sentraal. Soos wat die ballinge se nageslag na 538 vC teruggekeer het, was daar alhoemeer spanning oor land. 'n Grondkrisis het mettergaan ontstaan omdat verskillende mense verskillende grondaansprake gehad het. Vir die Heksateugredaksie (HexRed) was ‘land’ die eintlike heilsgawe van Jahwe. In die Heksateugredaksie (HexRed) se grootse werk (wat vanaf Genesis 1 tot Josua 24 gestrek het) was alles op Israel se besit van die land afgestem. Hierdie klem op die land val vandag nog gunstig op die oor van menige Afrikaan, maar dit was net die eenkant van die munt. Dan was daar ook nog die Pentateugredaksie (PentRed). In die Pentateugredaksie (PentRed) verneem ons die stem van diegene wat in diaspora verkeer. Wat van hulle vir die wie die land nie so belangrik is nie of wat nie deel aan die land het nie? Vir hulle word gesê die Tora (Genesis tot Deuteronomium) is die uitnemendste van Jahwe heilsgawes. Teenoor die Heksateugredaksie (HexRed) se klem op land word die Tora dus gestel. Die Tora was die eintlike gawe wat Israel moes koester. Gevolglik is die Pentateug van die boek Josua losgemaak en het die wette (soos in die Bondsboek, die Heiligheidskodeks en Deuteronomium) 'n baie sentrale rol begin speel. Hierop moes Israel bly fokus en in hierdie wette moes Israel ‘sy vreugde vind, dit dag en nag oordink’ (Ps 1:2). Belangrik is weereens die ‘etiese konsekwensies’ wat hieruit voortvloei. Vir die debat oor grondregte in Afrika is die spanning tussen Heksateugredaksie (HexRed) en Pentateugredaksie (PentRed) uiters belangrik. Jurie le Roux
|
|||||
![]() |
|||||